[AFR] Mbeki brief uit Rapport!

Day 1,566, 00:54 Published in Brazil USA by Grimstone

Hi, hier's 'n oulike stukkie uit Rapport. Hoop julle geniet dit.
Hierdie vrou het die wonderlikste sin vir humor.

Beste Mnr Mbeki

Verskoon my verwaandheid. Maar ek gaan vandag met die deur in die huis val.
Wel, dis wat die diewe Saterdagaand met my agterdeur gedoen het. Of u
my brief gaan lees, weet ek nie. Moontlik is u iewers in 'n verre
land, besig om buitelandse beleggers te oortuig dat SA nes Kanaan van
ouds, die land van melk en heuning is. Min weet hulle dat die melk so
suur is, jy kan joghurt daarmee maak.

En die heuning, wel, dit gebruik ons om gawe mense soos Robert Mugabe
se mond mee blink te smeer. Of dalk, meneer die president, is u iewers
by 'n mediese kongres. Besig om 'n aangrypende toespraak te lewer oor
'n sakie wat u tog so na aan die hart le. Die vigsprobleem, u weet,
daardie siekte wat 'n mens kry as jy nie agter jou ore was nie.

Mnr Mbeki, ek is nie 'n bitterbek nie. Ek is nie emosioneel nie. Ek ly
nie aan post-traumatiese stres nie. Ek is net wat 'n mens sal noem
ordentlik en indringend de donner in. Na 'n rustige naweek keer ek
terug na my tuiste in Yeoville. My ou huisie wat reeds 3 jaar in die
mark is. Maar niemand wil dit koop nie.
Want:

(a) hulle wil nie in 'n voorstad van Lagos woon nie,
(b) hulle wil dit so na aan verniet hê moontlik,
(c) die banke weier om 'n verband te gee (of vra 'n belaglike deposito).

Die hek staan oop. Die hond is weg. My hart sit in my keel. Voor in
die tuin lê my tennisraket. Toe weet ek. Statistieke het my ingehaal.

Ek is nie verknog aan 'n TV-stel of 'n CD-speler of 'n rekenaar of 'n
M-Net-dekodeerder of 'n videomasjien of 'n ketel of 'n verwarmer of 'n
haardroer of 'n selfoon of 'n kamera of tasse of 'n strykyster of
klere of beddegoed of handdoeke of skoene of juwele of parfuum of 200
CD's of enigiets waarop die bliksems nog hul hande kon lê nie. Die
gevriesde vegetariese worsies inkluis.... En (sonder enige
versekering) sal dit 'n wyle duur voordat ek weer enige van bogenoemde
kan vervang. Maar, dink ek, terwyl ek my bene onder my invou en op my
kniee neersak tussen die gemors wat oor die vloere gestrooi lê - dat
hulle my Energade gedrink het, dis nou my dinges se deksel. 'n Vriend
vertel my van 'n prostituut wat by hom gekla het dat een van haar
klante haar besteel het.

"Maar weet jy, Francois," se sy hoogs verontwaardig, "die geld is nie
so erg nie. Maar die vark het al my Tab uitgedrink." En dis hoe ek
nou voel.

Verontwaardig. Ontnugter. Teleurgesteld. Moedeloos. Soos derduisende
ander mense. Wit en swart. Wat al moes deurloop. En die hemel weet,
soveel het reeds met hul lewe daarvoor betaal. Mnr Mbeki, ek wil nie u
probleme myne maak nie. Ai, hoe glip my pen nou. Ek is ook nie iemand
wat erg aan betogings of enige verrigtinge van demonstratiewe aard
nie. Dus huil ek maar op u denkbeeldige skouer. Elke enkele laai is
uitgepluk. Die inhoud sorgvuldig deurgesoek vir enigiets waardevols.
Pille, hoesstroop, sjampoe... is soos confetti rondgestrooi. Net die
stof het hulle gelos.

In Essex het diewe onlangs in 'n huis op 'n sak poeier afgekom, gemerk
Charlie. Dog toe hulle val met hulle neuse in die botter. En "snuif"
tog te lekker aan die wit dwelm. Min wetend dat dit die stoflike
oorskot van die huiseienaar se hond was. Gelukkig kan niemand jou sin
vir humor steel nie.

Oral lê daar gebruikte kerse. En op my bed, 'n kombuismes. Ingeval
iemand onverwags instap of wakker word? Volgende dag bel ek die
polisie se noodnommer. "Ek is besteel!", verduidelik ek. "Kan jy my
dalk help?"
"Met wat?", vra sy.
Ek is nie seker wat om te antwoord nie. My kennis van misdaadtaal is beperk.
Miskien moet ek sê: "Met kaartjies vir die kriekettoets." Maar ek tel
tot tien en begin van voor.

Dalk moet ek my laat herdoop. In Birmingham, Engeland het 'n Mej
Nutting onlangs met mnr Toulouse getrou. Sy heet nou: Mevrou
Nutting-Toulouse.

Eintlik mnr Mbeki, wil ek net my verligting teenoor u uitspreek. Want:
hulle kon my vermoor het, vermink het, verkrag het. Maar deur die
genade is ek net beroof.

Paraguay is die agtste mees korrupste land ter wereld. 'n Ruk terug is
die hoof van die teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem. En aangekla
op negentien aanklagte van korrupsie. Maar ek is 'n burger van SA, 'n
pragtige demokratiese land waar eerbaarheid aan die orde van die dag
is. Waar diewe moet rekenskap gee van hul dade. Vra maar vir Hansie en
dr Boesak.

Ek groet u in 'n gees van patriotisme.
NS. My beste wense aan mevrou. En as sy dalk 'n ekstra paar nr 7-tekkies
het, stuur gerus aan. Twee linkervoete sal ook doen. Die diewe het vir my twee
regtervoete gelos.